Friday 2 August 2013

Dullstroom - anything but dull

’n Week lange kuier in Pretoria, afgerond met ’n naweek in Dullstroom was die wortel voor my eksamen stokkie. Hierdie is ’n verhaal van Dullstroom se gasvryheid, - Ouma, Celeste en die oom by die Dop-en –Dam.

Ons vertrek laatmiddag, Vrydag vanaf Pretoria  met ’n bespreking vir verblyf wat reeds twee maande vantevore afgehandel is en waarvan die deposito reeds betaal is. Dullstroom bied ook ’n Whiskeyfees die naweek aan, so daar is lankal nie meer akkommodasie vir laatslapers beskikbaar nie.

Halfpad tussen Pretoria en Dullstroom bel ons weer, kom ons noem hulle maar ons “gasvrouens” om te bevestig dat “Theron” nog oppad is, dat ons huisie, heel gepas getitel “Whiskey” reg is en dat ons oor so ’n uur daar gaan wees. Alles is in die haak.

In Dullstroom aangekom by die gasteplaas  is dit Ouma agter die besprekingsboek. Toe ons die sleutel wil kry, lig ouma ons in dat daar nou ander mense in “Whiskey” is, hier is nou ’n foutjie. Maar sien, sy help eintlik net haar dogter Celeste uit, en die is by die Dop-en-Dam – maar kom ons bel net gou vir Celeste. Celeste antwoord nie haar foon nie en reageer ook nie op “Oscar, Oscar kom in” op die handradio  nie. Gevolglik sê Ouma ons moet afry Dop-en-Dam toe, sy sal ook af ry, dan sorteer ons die netelige situasie uit.

Ons begin ry, slegte grondpad, lang ent, donkernag. Ouma spring solank in haar Ford bakkie wat agter haar huis geparkeer is. Volgende oomblik kom ouma met ’n groot spoed verby, vat altwee ons motors verby en jaag vooruit na Celeste – natuurlik sodat haar weergawe van die storie eerste gehoor kan word.
By die Dop-en-Dam aangekom, ontmoet ons vir Celeste wat ons nie juis hartlik verwelkom nie. Sy erken daar is nou ’n fout met die besprekings. Sien daar het nou mense aangekom wat nie bespreek of betaal het nie, hulle vra toe om in Whiskey te bly en ouma sê nee maar dis regso, geen probleem nie. Ons sit julle daar in vir die naweek.  “Whiskey se julle?” Ja, hy is reg vir julle. Ouma is natuurlik ʼn gasvrye dame. As sy in die dorp kom en mense raakloop dan sê sy tien teen een vir hulle, nee kom bly daar by ons. Celeste het sulke oulike plekkies, daar is baie plek, almal is welkom.

Na ’n woordwisseling tussen Ouma en Celeste - want ouma het nou net ’n papier afgebring en nie die boek met besprekings nie, en nou weet Celeste nie wat aangaan nie - lig Celeste ons in, dat  ons huisie “Whiskey” nou wel deur onbetaalde, onbespreekte vreemdelinge geneem is, maar sy sal ons in rondawel 13 en 14 sit, op die kampterrein, reg langs die Dop-en-Dam. In haar bemarkingspoging om die rondawel aan ons af te smeer, meld sy ook dat dit baie naby aan die mans ablusieblokke is. Sy sal dan die volgende dag na die huidige inwoners van Whiskey gaan en vra of hulle kan trek en dan kan ons vir die tweede en laaste nag in ons oorspronklike huisie slaap. 

Wat nie ouma of Celeste weet nie, is dat Edwin in hulle besprekingsboek, gesien het dat die Botha’s vanaand later nog gaan inkom, en hulle is bespreek vir Rondawel 13 en 14!

Op hierdie stadium is dit vir ons duidelik dat die besprekingstelsel veel te wense oorlaat, ons sonder verblyf is, twee en ’n halwe ure vanaf Pretoria en dat die res van Dullstroom reeds vol is. Na ’n kort spanpraatjie besluit ons, ons sit ons voet neer. Ons soek ons huisie wat ons lankal reeds bespreek en betaal het. Celeste het dit nie goed ontvang nie. “Nee maar dis onmoontlik, die mense het ’n hond, en ’n kind – ek kan hulle nie nou skuif nie”. Ons steek vas, hulle moet in elkgeval nie daar wees nie, so skuif  moet hulle skuif. As Rondawel 13 en 14 so wonderlik is, gee die rondawel vir hulle.

Toe Celeste sien ons gaan nie ingee nie, besluit sy om af te ry na die huisie toe, ouma is kort op haar spoor. Terwyl sy na die bakkie toe loop, bulder ouma  “Dis die bleddie skelms, dis alles hulle skuld” – weet nie of ouma vergeet het dat dit sy is wat vir die “bleddie skelms” behuising aangebied het nie.

Na ’n geruime tyd, kom die Ford bakkie weer aangejaag, ouma is intussen huis toe. Seker om vir die Botha’s van Rondawel 13 en 14 te gaan wag. Celeste kom terug en lig ons nonchalant in dat die huidige inwoners weier om te skuif. Sy kan ons wel by haar bure op hulle plaas laat oorslaap vir die nag. Toe ons nogsteeds nie ingee nie is Celeste nie beïndruk nie. 

Sy beweer sy kan nie die mense skuif nie. Toe ons vir haar noem  dat of sy skuif hulle of ons skuif hulle, begin sy hewiglik protesteer.  Na Franco vir haar ’n pep-talk gegee het en vir haar genoem het dat dit haar eiendom is en dat sy besluit wie bly hier,  en dat dit definitief nie “bleddie skelms” behels nie, spring sy weer in die Ford en jaag weg – rigting Whiskey.

Intussen is daar ’n oom wat sake by die Dop-en Dam behartig. Hy nooi ons solank in vir ’n koffietjie, dis vrek koud buite. Die oom is lus vir geselsies, duidelik luister Celeste en ouma nie na al sy staaltjies nie en hier is nou ’n nuwe gehoor jongmense, so hy is begeesterd. Hy vertel ons van sy lewe, sy werk, en ʼn onglangse naweek wat hy in die wildtuin spandeer het. Hy haal sy Blackberry uit en arme Yolandé wat naaste aan hom sit, moet foto’s van al die wild wat hy te siene gekry het aanskou en “ooh” en “aah” op die regte plekke. Na Yolande ’n deeglike opsomming kon maak van alle wild in die wildtuin, kom Celeste weer terug. Stap in, maar sy se niks. Gaan staan agter die kroegtoonbank, raak doenig en nogsteeds nie ’n woord oor ons verblyf nie.

ʼn Rukkie later kom sy na ons aangestap,  sleutel in die hand. Groot is ons verligting toe ons die naam “Whiskey” op die sleutelhouer sien. Ons bedank haar en ry ʼn uur na ons aankoms helaas na Whiskey toe. Daar aangekom, brand die kaggel in ons huisie, maar verder is daar geen tekens dat daar enigsins iemand anders in die huisie was nie.


Wat van die “Bleddie Skelms”, die Botha’s van rondawel 13 en 14 geword het en wie die res van die naweek die oom van die Dop-en-Dam se foto’s moes aanskou weet ons nie. Ons weet wel, Dullstroom is verseker nie ʼn “dull” plek  nie.