Monday 18 March 2013

Merke... gereed... vir kleuresport?


'n Artikel deur Dana Snyman - fantasties soos altyd! 




Op die ouderdom van tien was dit reeds duidelik ek gaan nie Suid-Afrika se volgende Paul Nash wees nie. Ek was g’nnaelloper nie. Dit het ek bewys deur in my eerste drie skooljare elke keer tweede laaste in my uitdun oor 100 m te kom.
En tog was dit asof die onderwysers dit nie wou aanvaar nie, want die volgende jaar, toe ek in graad 4 kom, moes ek maar weer aantree vir ’n uitdun oor 100 m – en wéér, soos al die vorige jare, het ek en Piet Skyfies, wat ’n lekhart en ingroeitoonnaels gehad het, dit uitgespook om die laaste plek.

Elke dekselse jaar, van graad 1 tot matriek, moes ek aan ’n uitdun deelneem om te bewys ek behoort op die paviljoen te sit (saam met Piet Skyfies) en te sing: “Jêmblikke, visblikke, drie by drie! Ons is, ons is, weet julle wie?”

Op laerskool was ek in die geelspan. Op hoërskool was ek in die Van Rensburg-trek. Ons was trots Afrikaans op Nylstroom, ja. Die skool is in drie trekke verdeel: die Van Rensburg-, die Trichardt- en die Potgieter-trek.

Aan al hierdie dinge het ek gesit en dink nadat ek onlangs verby ’n skool in die voorstede gery het waar kinders op die atletiekbaan doenig was.

Ek het ook weer aan Freek Tyres gedink. Freek, ons biologie-onderwyser, was ook ons skool se afsitter. Dit was asof ou Freek ’n effens uitdagende Dirty Harry-agtige wieg in sy heupe gehad het wanneer hy na die wegspringplek gestap het met die pistool in die hand, asof hy wou sê: “Spring te vroeg weg . . . and make my day.”

Freek en die ander mansonderwysers het almal by ’n atletiekbyeenkoms ’n wit safaripak gedra. Party het selfs hul bruin Grasshoppers met Shoe Shine effens witter probeer maak.

Só ’n kleuresport was ’n klein drama wat homself elke jaar herhaal het: In die 1 500 m vir meisies o.16 het een van die deelnemers – gewoonlik ’n muisblonde meisietjie met knopperige knieë – by die wenpaal neergeslaan. Dan het een van die onderwysers haar opgeraap en met haar onder luide applous in sy arms gestap na die noodhulptent, waar die reuk van Deep Heat swaar in die lug gehang het.

By die wenpaal het ook altyd ’n paar ma’s met ’n jaffle of ’n worsrol in die hand gewag. Sodra Boetie dan vierde of sesde in die 100 m geëindig het, het die ma ’n jaffle of ’n worsrol in die kind se hand gedruk en gesê: “Kom ons ry, my kind. Ek het vir Meneer gesê jy moet eerder die 800 hardloop, maar nee . . .”

In die een of ander stadium op so ’n byeenkoms was daar ook altyd dié aankondiging oor die luidsprekerstelsel: “Sal die eienaar van ’n Volkswagen Passat met die registrasienommer TNS 3487 dit asseblief gaan skuif. Jy parkeer iemand vas.”

Word die kinders op skool steeds oor 100 m “uitgedun”? wonder ek.

En is daar ook ander mense, soos ek, wat nie van atletiek hou nie en nooit ooit weer daai simpel kreet wil hoor nie: “Jêmblikke, visblikke, drie by drie! Ons is, ons is, weet julle wie?”

Port Nolloth 
- Die Burger

Kommer oor Kayamandi

Die brand die naweek in Kaymandi het my nogals geraak. Die getalle en statistiek van hoeveel mense wat verloor het nie so erg, as die emosionele aspek daaraan verbonde nie.  Totale hulpeloosheid. Meeste het ontsnap met net die klere aan hul lyf. As dit met slegs een inwoner van Kayamandi gebeur het, is dit steeds totaal  ontwrigtend. 



En dan sit ek en skryf hierdie blog uit 'n Universiteitskoshuiskamer, met soveel meer as wat ek ooit kan nodig he. 


Ja, as ons kaste regpak aan die einde van die jaar dan gee ons baie klere weg, en ek gee ook vir carguards geld hoor, selfs al het hulle nie na my kar gekyk nie. Maar hoe kan mens wegskram daarvan dat ons so uiters bevoorreg is, terwyl dit vir ander 'n stryd om oorlewing is. 

Ek het vandag by die Brandweer gaan help om klere donasies te sorteer. Ek was so dankbaar vir die geweldige aantal donasies wat ontvang is, maar terwyl ek daar was het ek myself in die mense van Kayamandi se skoene probeer plaas. Jy moet van voor begin, vir jou 'n nuwe huis bou, stadig weer dinge begin bymekaarmaak, wat vir meeste van ons so vanselfsprekend is. Bakkies, border, gasstofie, emmer, tafel... Dis 'n lang lys. 

Die klere donasies is goed en maak 'n reuse verskil, maar vir ons is dit tog net klere wat ons inelkgeval nie meer dra nie. Is dit nie die maklikste manier hoe ons ons gewete kan stilkry nie? Is dit nie tyd dat ons meer van onsself gee nie?