Vir my is die mooiste
deel van die Paarl nie die granietrots wat bo die dorp uittroon, die arboretum,
volop wingerde of argitektuur nie. Nee, Niklaas Thomas is my gunsteling deel
van die Paarl.
Sowat ‘n jaar gelede het
ek verby Niklaas gery, ek in my kar, hy
op sy fiets met waentjie agteraan. Vanuit hierdie waentjie wat hy agter sy
fiets rondsleep bedryf Niklaas ‘n mobiele karwas. Ek was aangeraak en het
dadelik gestop om vir hom ‘n noot in die hand te druk en dankie te sê vir die inspirasie
wat hy is.
Niklaas, ‘n daklose,
karwasser het egter geweier om die geld by my te vat. “Nee mevrou, ek bedel
nie, ek sal te skaam kry. Ek kan nie geld vat as ek nie daarvoor gewerk het
nie.” Dit het baie ompraat van my kant af gevat om hom te oorreed om wel die
geld te vat.
In die daaropvolgende
maande het ek hom gereeld gaan soek, waar hy langs die polisiestasie in die
Paarl slaap, met ‘n siersteen muur aan die een kant, sy waentjie aan die ander
kant, is dit hier waar hy kom rus na werk.
Terwyl ek vanoggend in
die Hoofstraat draf, sien ek van vêr af reeds sy
waentjie, en begin reeds glimlag. Elke ontmoeting met Niklaas is vir my
spesiaal. “Mevrou, ek wil net vir my mense wys wat moontlik is, dat ‘n mens
moet hard werk.” “Ek het groot drome, miskien droom ek te groot. Ek droom van ‘n karavaantjie, een so op wiele, dat ek
net ‘n plek het om in te slaap. Ek het al vir die mense gevra om my te help,
dalk kan ek in my waentjie slaap, maar hulle het gesê dit gaan nie
werk nie.”
Toe ek hom vra of hy
omgee as ek vanaand weer kom en ‘n paar foto’s kom neem vertel hy my: “’ n
Ander vrou het die eendag ook so gekom en gesê sy wil my storie hoor en kom foto’s neem, en toe,
toe het sy my stilletjies op die TV gesit. Die mense sê so drie weke
terug was ek op die TV. Daai foontjie van my, die man wat dit vir my gegee het
het dit weer teruggevat, maar daai foontjie was so besig na die TV, ek het 8
oproepe gehad.”
Vanaand ruil ons ‘n sak
kos vir ‘n lewensverhaal. Niklaas is as kind mishandel, later het hy sy ouers
en sussie verloor in ‘n motorongeluk. Hy was by die Ultra City in Worcester toe
iemand vir hom ‘n R5 gegee het. Hy het die garage kafee binnegestap opsoek na
iets om te eet, “maar wat ek nie geweet het nie, Pappa daarbo het ‘n beter plan
vir my gehad.” Terwyl hy tussen die rakke stap het hy die skoenpolitoer
raakgesien en een blikkie gekoop.
“Ek het eers rondgestap
buite, maar dit was Kersfees en die mense het net sandale gedra.” “Maar toe ek
so afkyk het ek gesien die voetjies (tyres) kort ‘n polish”. Hy het begin om
karbande te politoer. Na twee kliënte sy potensiaal raakgesien het en ‘n finansiële
donasie gemaak het, het hy begin karre te was.
“Daarna het ek gaan koop:
Windowlene, 3 Argusse, want dit is die dikste koerante, en Sunlight – toe ken ek
nog nie van kar sjampoe nie. Een, twee, drie toe het ek my ingredients. Ek maak toe vir my ‘n sign op dik karton, daar
staan: “Good mornings, I’m waiting for your dirty car.”
Hy het later na die Paarl
geskuif. By ‘n scrapyard het hy ysters gekoop en ‘n skets, van die waentjie wat
hy agteraan sy fiets sou trek, geteken. Sy waentjie is gemaak en “gebrand” of
altans “hulle het my waentjie driekantig bestempel met signs.” “Die mense is
goed vir Niklaas mevrou”.
Toe ek hom uitvra oor sy
drome , vertel hy my: “Ek wil nie ryk wees nie, ek wil net lewe. En ek sal
graag ‘n stukkende karavaan in die hande wil kry, ek sal self die parte kry en
hom fix, maar ek soek net iets om in te slaap. Ek slaap al 35 jaar lank
buite. En as ek my learners kry dan kan
ek ‘n poegie ry. ‘n Man het gesê as ek my learners gaan skryf en dit vir hom kom
wys dan sal hy my help met ‘n poegie. Ek skryf die 8ste Julie vanjaar. Vir die
oogtoets het ek reeds gegaan, ek’t 8 uit 9 gekry vir die toets, kan jy glo
mevrou, 8 uit 9!”.
Ek bid saam met Niklaas,groet
hom en stap weg na my kar wat ‘n ent verder staan. Toe ek weer sien hardloop hy
agter my aan, “ek wil net vir jou kar kom bid, dat die Here die stuur sal vat
en jou sal veilig hou.”
Sy laaste storie bly my
by: “Gisteraand lees ek in my Bybel weer van die man wat die talente uitgedeel
het. Die een wat drie gekry het, het dit gevat en nog 3 gaan bymaak”. Maar die
een wat een talent gekry het, het dit gevat en begrawe. Hy het nie iets met sy
talente gedoen nie.”
“Ek hoef nie my talente
te begrawe nie. Ek kan karre was. Ek gebruik my talente.”
Niklaas Thomas |
Sy fiets en waentjie: "Driekantig bestempel met signs" |
Kliek op die volgende skakel om die KYKnet video van Niklaas te sien:
http://kyknet.dstv.com/2013/05/08/dagbreek-8-mei-2013-niklaas-thomas/