’n Week lange kuier in Pretoria,
afgerond met ’n naweek in Dullstroom was die wortel voor my eksamen stokkie.
Hierdie is ’n verhaal van Dullstroom se gasvryheid, - Ouma, Celeste en die oom
by die Dop-en –Dam.
Ons vertrek laatmiddag, Vrydag
vanaf Pretoria met ’n bespreking vir
verblyf wat reeds twee maande vantevore afgehandel is en waarvan die deposito
reeds betaal is. Dullstroom bied ook ’n Whiskeyfees die naweek aan, so daar is
lankal nie meer akkommodasie vir laatslapers beskikbaar nie.
Halfpad tussen Pretoria
en Dullstroom bel ons weer, kom ons noem hulle maar ons “gasvrouens” om te
bevestig dat “Theron” nog oppad is, dat ons huisie, heel gepas getitel
“Whiskey” reg is en dat ons oor so ’n uur daar gaan wees. Alles is in die haak.
In Dullstroom aangekom by
die gasteplaas is dit Ouma agter die
besprekingsboek. Toe ons die sleutel wil kry, lig ouma ons in dat daar nou
ander mense in “Whiskey” is, hier is nou ’n foutjie. Maar sien, sy help eintlik
net haar dogter Celeste uit, en die is by die Dop-en-Dam – maar kom ons bel net
gou vir Celeste. Celeste antwoord nie haar foon nie en reageer ook nie op “Oscar,
Oscar kom in” op die handradio nie.
Gevolglik sê
Ouma ons moet afry Dop-en-Dam toe, sy sal ook af ry, dan sorteer ons die
netelige situasie uit.
Ons begin ry, slegte
grondpad, lang ent, donkernag. Ouma spring solank in haar Ford bakkie wat agter
haar huis geparkeer is. Volgende oomblik kom ouma met ’n groot spoed verby, vat
altwee ons motors verby en jaag vooruit na Celeste – natuurlik sodat haar weergawe
van die storie eerste gehoor kan word.
By die Dop-en-Dam
aangekom, ontmoet ons vir Celeste wat ons nie juis hartlik verwelkom nie. Sy
erken daar is nou ’n fout met die besprekings. Sien daar het nou mense aangekom
wat nie bespreek of betaal het nie, hulle vra toe om in Whiskey te bly en ouma
sê nee maar dis
regso, geen probleem nie. Ons sit julle daar in vir die naweek. “Whiskey se julle?” Ja, hy is reg vir julle. Ouma
is natuurlik ʼn gasvrye dame. As sy in die dorp kom en mense raakloop dan sê sy tien teen een vir hulle, nee
kom bly daar by ons. Celeste het sulke oulike plekkies, daar is baie plek,
almal is welkom.
Na ’n woordwisseling
tussen Ouma en Celeste - want ouma het nou net ’n papier afgebring en nie die
boek met besprekings nie, en nou weet Celeste nie wat aangaan nie - lig Celeste
ons in, dat ons huisie “Whiskey” nou wel
deur onbetaalde, onbespreekte vreemdelinge geneem is, maar sy sal ons in
rondawel 13 en 14 sit, op die kampterrein, reg langs die Dop-en-Dam. In haar
bemarkingspoging om die rondawel aan ons af te smeer, meld sy ook dat dit baie
naby aan die mans ablusieblokke is. Sy sal dan die volgende dag na die huidige inwoners
van Whiskey gaan en vra of hulle kan trek en dan kan ons vir die tweede en
laaste nag in ons oorspronklike huisie slaap.
Wat nie ouma of Celeste weet nie,
is dat Edwin in hulle besprekingsboek, gesien het dat die Botha’s vanaand later
nog gaan inkom, en hulle is bespreek vir Rondawel 13 en 14!
Op hierdie stadium is dit
vir ons duidelik dat die besprekingstelsel veel te wense oorlaat, ons sonder
verblyf is, twee en ’n halwe ure vanaf Pretoria en dat die res van Dullstroom
reeds vol is. Na ’n kort spanpraatjie besluit ons, ons sit ons voet neer. Ons
soek ons huisie wat ons lankal reeds bespreek en betaal het. Celeste het dit
nie goed ontvang nie. “Nee maar dis onmoontlik, die mense het ’n hond, en ’n
kind – ek kan hulle nie nou skuif nie”. Ons steek vas, hulle moet in elkgeval
nie daar wees nie, so skuif moet hulle
skuif. As Rondawel 13 en 14 so wonderlik is, gee die rondawel vir hulle.
Toe Celeste sien ons gaan
nie ingee nie, besluit sy om af te ry na die huisie toe, ouma is kort op haar
spoor. Terwyl sy na die bakkie toe loop, bulder ouma “Dis die bleddie skelms, dis alles hulle
skuld” – weet nie of ouma vergeet het dat dit sy is wat vir die “bleddie
skelms” behuising aangebied het nie.
Na ’n geruime tyd, kom
die Ford bakkie weer aangejaag, ouma is intussen huis toe. Seker om vir die
Botha’s van Rondawel 13 en 14 te gaan wag. Celeste kom terug en lig ons nonchalant
in dat die huidige inwoners weier om te skuif. Sy kan ons wel by haar bure op
hulle plaas laat oorslaap vir die nag. Toe ons nogsteeds nie ingee nie is
Celeste nie beïndruk nie.
Sy beweer sy kan nie die
mense skuif nie. Toe ons vir haar noem
dat of sy skuif hulle of ons skuif hulle, begin sy hewiglik protesteer. Na Franco vir haar ’n pep-talk gegee het en
vir haar genoem het dat dit haar eiendom is en dat sy besluit wie bly hier, en dat dit definitief nie “bleddie skelms” behels
nie, spring sy weer in die Ford en jaag weg – rigting Whiskey.
Intussen is daar ’n oom
wat sake by die Dop-en Dam behartig. Hy nooi ons solank in vir ’n koffietjie,
dis vrek koud buite. Die oom is lus vir geselsies, duidelik luister Celeste en
ouma nie na al sy staaltjies nie en hier is nou ’n nuwe gehoor jongmense, so hy
is begeesterd. Hy vertel ons van sy lewe, sy werk, en ʼn onglangse naweek wat hy
in die wildtuin spandeer het. Hy haal sy Blackberry uit en arme Yolandé wat naaste aan hom sit, moet foto’s
van al die wild wat hy te siene gekry het aanskou en “ooh” en “aah” op die
regte plekke. Na Yolande ’n deeglike opsomming kon maak van alle wild in die
wildtuin, kom Celeste weer terug. Stap in, maar sy se niks. Gaan staan agter
die kroegtoonbank, raak doenig en nogsteeds nie ’n woord oor ons verblyf nie.
ʼn Rukkie later kom sy na
ons aangestap, sleutel in die hand.
Groot is ons verligting toe ons die naam “Whiskey” op die sleutelhouer sien.
Ons bedank haar en ry ʼn uur na ons aankoms helaas na Whiskey toe. Daar
aangekom, brand die kaggel in ons huisie, maar verder is daar geen tekens dat
daar enigsins iemand anders in die huisie was nie.
Wat van die “Bleddie
Skelms”, die Botha’s van rondawel 13 en 14 geword het en wie die res van die
naweek die oom van die Dop-en-Dam se foto’s moes aanskou weet ons nie. Ons weet
wel, Dullstroom is verseker nie ʼn “dull” plek
nie.